Mervin Williams

12_joe-strydom-photography

Mervin Johannes Williams is in 1971 in Port Elizabeth gebore. Mervin is linkshandig, maar aangesien hy aanvanklik vir jare op regshandige kitare leer speel het, verkies hy om onderstebo kitaar te speel. Vandaar sy bynaam, Mervin “upside-down” Williams.

Mervin het vanaf kindsbeen op Uitenhage musiek gemaak en talentkompetisies gereël en het as tiener reeds met langarm en reggae bands deur die Oos-Kaap getoer. In die laat tagtigerjare was hy lid van ‘n driemanskap wat Uitenhage verlaat het om hulle musiek na Johannesburgse gehore te neem. Met hul aankoms word hulle in die destyds gesogte Hillbrow aan die ‘wonderkind’ Ricardo Groenewald van “I love you Daddy” faam voorgestel. Daarna het dié vier vir etlike jare gereeld as Ricardo and Friends opgetree. Toe dié era op ‘n einde loop, keer Mervin terug na die Oos-Kaap, waar hy onder meer in die langarm band Sound Supreme en in die reggae band The Roots speel. Hierdie groep word gekies om oud-president Nelson Mandela tydens sy eerste besoek aan die Oos-Kaap ná sy vrylating met hul musiek welkom te heet.

Teen die middel negentigerjare verhuis Mervin terug na Johannesburg. In Reijger Park in Johannesburg skryf hy saam reggaeliedjies en speel kitaar in dieselfde band, wat nou egter herdoop is na Skank n The Roots. Hy speel in dieselfde periode van sowat sewe jaar ook in ‘n reeks verskillende bands, by name Mix, Ronnie’s Band, Otto se Band, en in twee kerke, die Upper Room en Christenwerkers.

Dit is in hierdie tyd dat hy sy lewensmaat, Nellie Prince, ontmoet, wat ook ‘n jazz liefhebber en cover sanger is. Saam trek die twee eers na Walkerville waar hulle dan as Merv & Nel gereeld in ‘n klein plaaslike kroegie cover liedjies uitvoer, en later na Eldorado Park, waar hulle ook ‘n geleentheid kry om by die Eldorado Park Jazz Festival op te tree.

In 2011 stig Mervin saam met vriende die latin en pop cover band The Real Signature, wat vir drie jaar lank gereelde optredes losslaan in Mediterreense restaurante en ballroom venues. Mervin skryf etlike instrumentele nommers wat deur hierdie groep gespeel word.

In 2013 ontmoet Mervin die sangeres en liedjieskrywer Liela Groenewald. Hy tree saam met haar op by die Oppikoppifees en tydens die vrystelling van haar debuutalbum, en besluit om haar gereelde kitaarspeler en agtergrondsanger te word. Buiten Liela se oorspronklike musiek, speel die twee onder die vaandel LM Kollektiv ook klassieke Suid-Afrikaanse en Afrika poptreffers uit. LM Kollektiv slaan ‘n residensie by Il Giardino los,  maar hulle laat vaar die weeklikse optrede ‘n jaar later om meer op hulle oorspronklike musiek te fokus, waarvan daar nou ook ‘n paar gesamentlike werke is.

Buiten gereelde individuele optredes, speel Mervin ook in 2013, 2014, 2015 en 2016 saam met Liela by die jaarlikse Oppikoppifees. Hy vergesel ook etlike digters met kitaarspel as agtergrondmusiek.

Mervin verskyn saam met Liela op die tv musiekprogramme Jam en Die Wasgoedlyn, en individueel as lid van die orkes in die SABC televisiedrama Roer Jou Voete.

*Mervin Williams is van tyd tot tyd beskikbaar om saam met ander kunstenaars in die Johannesburg-omgewing op te tree.
Kontak hom gerus per sms aan 082 451 1015 deur Liela Groenewald,
wat as sy bestuurder optree.
*Let wel: Vervoer en ander kostes verbonde aan enige oefensessies en optredes moet vooraf gedek word, onafhanklik van die optredefooi. Laasgenoemde is op die dag van ‘n optrede in kontant betaalbaar.

*Besoek gerus ook Mervin se facebookprofiel.

Die inligting hierbo is deur middel van onderhoude en navorsing deur Liela Groenewald versamel, en mag met die toepaslike krediet vryelik gebruik word.

Advertisements